top of page

kultuur

Kulturele aktiwiteite is net so belangrik soos sport en daarom word leerders aangemoedig om aan die volgende aktiwiteite deel te neem:

 

ATKV-Tienertoneel

Leerders neem op gereelde basis aan die nasionale ATKV-Tienertoneel kompetisie deel. Leerders behaal verskeie kere die hoogste toekenning in hul onderskeie kategorieë en die Hoërskool Grens se tienertoneel was reeds twee keer deel van die nasionale ronde wat te Aardklop plaasgevind het.

Die Lourier
Die skoolkoerant verskyn jaarliks en bied die leerders ‘n geleentheid om joernalistieke ervaring op te doen. Die Lourier kies elke jaar ‘n nuwe redaksie. Die redaksie skiet self jaarliks ‘n bemarkings-DVD om voornemende graad agts te oorreed om na Grens toe te kom.

Eksterne drama
Leerders word die geleentheid gebied om vir die SA Spraak en Drama Kollege eksamen in te skryf.

Interact
MOTTO: Helpende hande in ‘n stukkende wêreld

Interact is die benaming van die Rotariër jeuggroepe wêreldwyd wat op gemeenskapsdiens gefokus is en mensliewendheid, vrede en respek teenoor die lewe nastreef. In alle handelinge om ander te bevoordeel word die volgende vier vrae, bekend as die 4 WAY TEST, onderskryf:
1. Is dit die waarheid?
2. Is dit teenoor almal regverdig?
3. Sal dit welwillendheid bevorder?
4. Sal dit tot almal se voordeel wees?

Die leiers van die komitee staan bekend as die president en die visepresident.

Die Interact-leerders is betrokke by weeklikse ouetehuisbesoeke, by die kleuterskool in Milnerlandgoed, insamelings vir die Nasionale Truieweek en ander fondsinsamelings, bv. die Jan Krielskool se Kersliggieprojek en die Borg-‘n-Skolierprojek. Hulle neem deel aan die aannemingsprojek van die dieretuin en ondersteun straatkollektes van verskeie liefdadigheidsorganisasies.

Musiek

1. Individueel
Verskeie individuele leerders en ensembles verwerf goud en bekers vir die beste uitvoerders in hulle onderskeie afdelings in sang, klavier en blokfluit by die Oos-Londen Eisteddfod.

2. Marimba-orkes

Die marimba-orkes het reeds verskeie trofeë as wenners in verskillende kategorieë by die Nasionale Marimba kompetisie asook die Internasionale Marimba- en Steelpan kompetisie gewen en verwerf goue toekennings by die Oos-Londen Eisteddfod.

Die marimba-orkes tree ook op by o.a. ouetehuise, sakefunksies, troues en teepartye.

3. Sanggroep
Die sanggroep behaal verskeie kere goue toekennings by die Oos-Londen Eisteddfod. Hulle tree ook by verskeie funksies en geleenthede op.

Nasionale Skynhof-kompetisie (Moot Court)
Leerders kry die geleentheid om aan die Nasionale Skynhof-kompetisie in Pretoria deel te neem. Die kompetisie is vir graad 11-leerders en word jaarliks deur die Universiteit van Pretoria, in samewerking met die Universiteite van Wes-Kaap, Venda, die Stigting vir Menseregte, die Departement van Justisie en Konstitusionele-ontwikkeling, die Sentrum vir Kinderregte en die Departement van Onderwys aangebied.

Die leerders kry ‘n saak wat altyd op kinderregte gemik is en wat wat in die konstitusionele hof beveg moet word en albei partye in die saak moet verteenwoordig word. Die doel van die kompetisie is om hul meer van Suid-Afrika se grondwet bewus te maak en hul te leer om na albei kante van ‘n saak te kyk.

Die eerste ronde behels die skryf van argumente vir albei partye wat deur die Universiteit van Pretoria se Regsdepartement beoordeel word. Die finale ronde van die kompetisie vind in die konstitusionele hof plaas.

Die twee leerders het onlangs eerste in die Oos-kaap en vierde in die land geëindig. Een van die leerders is gekies vir die All Stars-span wat in Den Haag deelneem.

 

Noodhulp
‘n Noodhulpspan word jaarliks opgelei en leerders kry ook die geleentheid om hulle vlak van opleiding te verhoog. Die noodhulpspan lewer waardevolle diens by sportgeleenthede.

Poësie, Prosa en Kuns
Verskeie leerders se skryfkuns word gepubliseer en kunsleerders vewerf goue sertifikate by kunsuitstallings vir hoërskole.

Redenaars
Die leerders neem aan die ATKV-Redenaarskompetisie deel en sommige leerders dring deur na die Nasionale ronde.

Leerders kry ook die geleentheid om aan die Young Communicator’s Award English Public Speaking Competition deel te neem.

Skaak
Die skaak lewer verskeie provinsiale verteenwoordigers op.

VCSV
Daar is ‘n weeklikse VCSV-periode gedurende skooltyd. Diensjaarspanne besoek die skool en leerders het die geleentheid om jaarliks VCSV-kampe by te woon.

Voortrekkers
Daar word op die verskeie jaarlikse kampe en uitstappies van ervaringsleer gebruik gemaak. ‘n Paar leerders het die prestasie behaal om as die Jeugleier van die Oos-Kaap gekies te word. Verskeie leerders verwerf die Presidentsverkenner- en Hoofleierswag-toekennings.

 

 

bottom of page