top of page

ter nagedagtenis

Skool- en adjunkhoofde onlangs oorlede

  • Mnr. A. Hattingh, Adjunkhoof vanaf 1966 tot 3de kwartaal 1976, oorlede 30.05.2012

  • Dr. G.J. van Lill, Skoolhoof vanaf Julie 1963 tot Maart 1976, oorlede 09.09.2012

  • Mnr. W.G. Terblanche, Skoolhoof vanaf April 1989 tot 2001, oorlede 25.09.2012

  • Mev. A. Pelser, Adjunkhoof vanaf 2006 tot 25 Des. 2013, oorlede 25.12.2013

 (Indien u van enige ander sterfgevalle van voormalige skool- en adjunkhoofde bewus is, is u welkom om dit aan ons te verskaf by admin@grens.co.za.

 

Ter nagedagtenis aan mev. A. Pelser

 30.09.1958 – 25.12.2013

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  

Soos geelhoutbome baie goed in kusgebiede groei

het juf. Pelser hier by ons kusgebied

in 1997 wortelgeskiet en gegroei

van onderwyseres tot Grens se adjunkhoof in 2006.

 

Soos geelhoutbome

het juf. Pelser immergroen gebly

met nuwe idees en

gehelp om leerder-, personeel-, vak- en skoolprobleme op te los.

 

Die wyduitgestrekte krone van geelhoutbome

laat ons dink aan die wydvertakte take

wat sy by die skool verrig het

en haar betrokkenheid by die ondersteunersklub.

 

Soos die gebruik van geelhoutbome

vir meubels, plafonne, vloere, bote en dwarslêers

so het sy waardevolle bydraes tot die

dissipline en die daaglikse verloop van die skool gelewer.

 

Wanneer die geelhoutbome

hulle helder geel vrugte dra

en die sade blou en perserig word

sal ons juf. Pelser se liefde vir blomme en kleure onthou

 

en die geelhoutbome van Knysna

laat ons dink

aan haar opgewondenheid

om in Knysna vakansie te hou.

 

Mag juf. Pelser nog steeds groei

groot en sterk soos ‘n geelhoutboom.

 

A.C. Muller

 

(Die geelhoutboom is deur mnr. Wally Schroeder geskenk en op 12.02.2014 in die skool se tuin geplant.)

 

Huldeblyke aan mev. Annelie Pelser
 

Dit het my as skoolhoof en die personeel diep getref om oor die Kerstyd van Peet en Annelie afskeid te neem.

Ek wil graag ‘n paar gedagtes rakende Annelie se onderwysloopbaan met u deel. Sy het in Januarie 1980 by die Hoërskool Hartbeespoort in Gauteng begin. Later – vanaf die Hoërskool Garsfontein – is sy in 1997 as ‘n Lewenswetenskappe onderwyseres by die Hoërskool Grens aangestel en in 2006 as adjunkhoof.

Gedurende die afgelope klompie jare het ons heelwat sakke sout saam opgeëet. Daar was ernstige oomblikke waar ons hard met van die leerders moes praat, maar daar was ook heelwat ligter en meer komiese tye. Ek sal nooit vergeet hoe ons soms in die kantoor so uit die hoek van ons oë kontak gemaak het en nie anders kon as om te glimlag vir die kreatiewe verduidelikings en opmerkings oor hoekom ‘n leerder byvoorbeeld nie ‘n toets kon skryf of hoekom dié een verslaap het nie.

Ek en Linda het dikwels tydens funksies ‘n tafel met Peet en Annelie gedeel en dan het hy altyd vir ‘n glasie nagmaalwyn, wat hulle tydens Kaapse vakansies gekoop het, gesorg. Selfs toe hulle na die vorige ongeluk nie ‘n funksie kon bywoon nie, het Peet gesorg dat dit wel by die tafel beskikbaar was.

Woorde wat Annelie versinnebeeld het, is vreesloos en gemotiveerd om die skool se wiele glad te laat verloop. Die skool het haar na aan die hart gelê en haar vasberadenheid om elke dag die skoolopset te verbeter en ‘n verandering te maak was opvallend. Dit was vir haar belangrik om sover moontlik persone te bedank vir hulle werk en bydrae.

 

Ek het altyd besef by hoeveel fasette van die skool Annelie betrokke was en die ondersteunende rol wat sy gespeel het in die oplos van leerder-, personeel-, vak- en skoolprobleme en haar waardevolle bydrae tot die dissipline van die skool. Annelie het voortdurend hoë standaarde gestel en het self die voorbeeld gestel. Dit is net weer bevestig met die leemte wat sy gelaat het.

Ek lees graag die volgende namens die Beheerliggaam:
Vir die Beheerliggaam van die skool was dit ‘n baie groot voorreg om die afgelope vyf jaar, en vir sommige lede die afgelope twee jaar, saam met Annelie te kon werk. Annelie se eerlikheid, opregtheid, lojaliteit en entoesiasme sal ons altyd onthou. Geen taak of versoek was vir haar te groot of te veel nie. Ons is dankbaar dat ons ons kinders se opvoeding aan Annelie, saam met die skoolhoof en ander leerkragte, kon toevertrou. Ons mis Annelie reeds by ons vergaderings en weet dat ons haar insette en leiding in die toekoms nog baie sal mis. Annelie en Peet se teenwoordigheid by die sportbyeenkomste en ander skoolfunksies gaan ‘n groot leemte laat asook die lekker geselsies na die wedstryde by Die Dek. Die Beheerliggaam wil sy diepe medelye aan Jerine en Landi asook die res van die familie oordra. Ons kan nie vir julle sê dat ons weet hoe julle voel nie, maar ons wil julle verseker dat julle deurentyd in ons gebede is. Ons weet dat ons Hemelse Vader julle deur hierdie tyd sal dra en aan julle berusting en vertroosting sal skenk.

Ek lees die volgende namens die Grens Ondersteunersklub:
Vanaf die ontstaan van die klub is Annelie se betrokkenheid waardeer. Sy en Peet was albei lede van die klub. Hul volgehoue ondersteuning was opvallend en hulle het getrou die funksies bygewoon. Annelie het ook op die bestuur gedien. Haar skakeling tussen die skool en die Ondersteunersklub in verband met die reëlings en koördineering, wat die vlot verloop van funksies by die skool verseker het, was van onskatbare waarde. Sy was altyd entoesiasties en meer as gewillig om haar hulp aan te bied. Hul teenwoordigheid word gemis.

Leerders het getuig van die impak wat sy op hul lewens gehad het en die goeie kwaliteite wat sy in hulle raakgesien en gekweek het. Hulle onthou dat sy streng was, maar tog regverdig en ‘n bok vir sports. Die algemene gevoel: Grens het ‘n besondere en onvervangbare mentor, mens en onderwyser verloor. Een van haar gunsteling aanhalings was Carpe Diem. Sy het dit uitgeleef en vir matrieks aan die einde die jaar met die woorde gelaat: “Carpe Diem – gryp die dag aan en leef voluit!”

Kollegas:

Annelie Pelser – ‘n vrou van vele fasette – ‘n dame, nie net in haar voorkoms nie, maar ook in hoe sy mense behandel het.

Sy was meer as ‘n kollega – sy was vir sommige ‘n beste vriendin. Iemand wie se vriendskap so baie beteken het. Ons onthou geselsies, huil en lag. Die vonkel in haar oë was altyd duidelik sigbaar wanneer ‘n snaakse oomblik gedeel word.

‘n Personeellid skryf:
Annelie, as ons aan jou dink…
Sien ons onmiddellik daardie mooi groot blou oë
Ruik ons jou parfuum
Hoor ons jou vroegdag in die personeelkamer sê: Dames en here, u moet nou baie mooi vir my luister
Beleef ons jou rustige manier van “krisis-oomblikke” hanteer en oplos asook jou realistiese denkwyse oor ditjies en datjies
Ondervind ons ‘n oase as ons in jou kantoordeur staan en jy sê: Hoe kan ek jou help, my pel?
Mis ons die saam-praat, saam-teedrink, saam-bespiegel en bespreek.

Annelie was vir baie leerkragte ‘n skool-ma. Haar deur het altyd oopgestaan. Sy het geluister en ‘n mens met raad, hulp en ondersteuning gelei. Maar soos ‘n ma met haar kind, was dit ook soms nodig om te berispe om mense op die regte pad te hou. Sy het probleme opgelos en probeer om te kompenseer om almal tevrede te stel. Sy het ook gepoog om regverdig met mense te werk.

Ander kere: “Kom sit en vertel vir my hoe dit met jou gaan.” ‘n Personeellid dink terug aan ‘n stresvolle tyd toe sy baie gehuil het en gevoel het alles loop verkeerd. Sy sê: “Daardie aand lui my foon. Annelie het omtrent ‘n uur met my gesels. Sy was so bekommerd. Ek het gewéét sy was opreg. Die volgende dag was daar ‘n kaartjie in my posvakkie.”

Annelie het almal belangrik laat voel en dat dit wat jy doen waarde het. Haar empatie en begrip sal lank onthou word. Sy was iemand met wie baie personeellede ook hul hartsgeheime gedeel het. Sy kon luister en deel oor kinders grootmaak. Annelie was ook besorg oor personeellede se ouers en familielede.

Woorde wat ons almal geken het: “Vriendin, laat ek jou vertel.” Dan het jy geweet – hier kom ‘n vermaaklike storie óf dalk ‘n lekker resep! Óf sy het ‘n Groupon spesiale aanbod vir ‘n restaurant in Oos-Londen en in die Boland uitgesnuffel.

‘n Personeellid onthou: Sy was veral opgewonde oor die rugbytoere, het gereeld oor die reëlings uitgevra en haar hulp aangebied. Toe sy my na haar kantoor nooi en sê: “Ek het ‘n plan!” word ek dadelik opgewonde en sê: “Ek soen juffrou sommer oopmond.” Toe kry sy weer die bekende uitslag op haar nek en raak bloedrooi.

Lekker kos was veral iets wat sy geniet het en ‘n sjokolade brownie met teepouses was so reg in haar kraal. Sy en Peet het aan ‘n dineeklub behoort en sy het ons gereeld vermaak met stories oor die uitheemse disse en drankies van vreemde lande. Ons het gedeel in die beplanning, die keuses, die proe, die genot en die foto’s.

‘n Ander kollega skryf: Ek het vandag verby jou kantoor geloop, maar jy was nie daar nie. Net soos verlede jaar, was dit ‘n koue, leë kantoor. Maar toe het ek geweet jy kom terug. En jy het. Maar nou is daar net ‘n dop, leeg sonder jou. Jy kan nie terugkom nie.
Jou boodskappe is nog op my foon. Om hulle te verwyder sal dit alles te werklik maak. Nooit weer sal jy my roep vir daardie spesiale drukkie nie. Nooit weer sal ek daardie sprankelende glimlag sien nie. Jou woorde van aanmoediging is vir altyd stil. Ek kan nie meer net inloer om af te pak nie, met die wete dat daar ‘n simpatieke oor en hart is – wat nie net hoor wat ek sê nie, maar óók wat ek nie sê nie.
Dit was moeilik om by die blombelaaide tafels verby te stap en nie te huil nie. Jy wat so lief vir blomme was – ek wou hulle saam met jou bewonder. Maar ek kon nie – jy was nie daar nie.

Dan was daar Annelie en Peet se liefde vir Andre Rieu se musiek. Groot was hul vreugde om sy vertoning in Durban by te woon. Sy was skaars terug by die skool, toe lig sy ons in: “Ek het reeds kaartjies vir volgende jaar se vertoning in die Kaap bespreek!” Sun City Skouspel het ook nie agterweë gebly nie.

Peet en haar geliefde dogters het sin in haar lewe gegee. Haar hartseer en vreugde rondom haar gesin het sy met gebede hanteer. Peet was haar steunpilaar en skouer om op te huil toe dit moeilik gegaan het.

Ek sluit af met die volgende: Annelie en Peet het alweer in die Kaap gekuier en daar sien Annelie ‘n geraamde gesegde wat sy gevoel het veral op ‘n spesifieke personeellid van toepassing was – want so was sy – altyd op ander ingestel.

Jerine en Landi, daardie geraamde woorde is wat jul ouers vir julle sou wou toewens. Ons dra dit graag namens jul ma en pa aan julle oor:

Ek wens vir jou ‘n polka-dot skoen
Wat magic vir jou sal doen.
Jou treë sal rek
Jou drome een vir een sal nader trek.
Jou hoog by ‘n roltrap op sal vat
En jou laat voel jy loop heeldag op ‘n bloedrooi mat.

Die Grens-familie wens die familie, vriende en ander betrokkenes krag en sterkte toe. Ons meegevoel gaan saam met julle.

bottom of page